DIE HELENDE HART VAN HILLBROW / DIE MENSE VAN MES

In die hartjie van vanjaar se ysige winter, raak ‘n groepie vermaaklikheidskunstenaars betrokke by ‘n fondsinsamelings funksie vir MES – Metro Evangelical Services (Metro Evangeliese Sorg)- ‘n gemeenskaps gebaseerde organisasie wat in die middestad van Johannesburg , opheffingswerk doen. Ek, en my kollegas wonder heimlik hoe enigiemand ‘n wesenlike verskil in die skynbare hopelose, haglike, gevaarlike  gevreesde Hillbrow en omgewing kan maak.



Niks en niemand kon ons voorberei op die wonderwerke wat ons daar ervaar het nie. Mens voel die nuwe, positiewe energie in die omgewing.Jy sien die selfvertroue en trots straal uit individue wat voorheen hopeloos, haweloos en werkloos was. Jy hoor suksesverhale wat jou tone laat krul van die lekkerkry, en jou knop in die keel laat wegsluk.



Dis asof ‘n magistrale atmosfeer soos ‘n donskombers liggies oor die middestad kom rus het, asof daar skielik ‘n helder, sterk lig in die stedelike donker aangegaan het. Natuurlik het hierdie “wonderwerk” nie oornag gebeur nie. MES werk al 21 jaar aan die hoop en maatskaplike welvaart wat nou so sigbaar is. En hul woeker steeds voort- nuwe planne, groter projekte, nog meer en meer tasbare tekens van hulp.Die nood is so groot, hul kan nooit , vir een oomblik op hul louere rus nie.

 

MES’n artikel 21 organisasie, is vertoonvenster van onvoorwaardelike dienslewering – hier word weggooi mense gehelp om van voor af te begin. Van gesondheidsorg tot behuising, opleiding tot werkverskaffing , kindersorg , bejaardesorg, berading, tot sopkombuise, ‘n verskeidenheid gemeenskapsdienste - als vervat in hul missie om ‘n beter toekoms te verseker. Hulle is georganiseerd, professioneel in hul werkswyse en deernisvol in hul hantering van elke kliënt.



“Ons is ‘n Christelike organisasie, maar diskrimineer op geen manier teen enigiemand nie “ vertel hul bemarkingspersoon – Leona Pienaar.



Jy hoef nie tot die Christelike geloof te behoort om deel te wees van MES nie. “Sy en die ander personeel is met reg trots op hul vele suksesverhale. Hul toewyding en fokus op beide die spirituele en praktiese opheffing van elke indivudu wat by hulle kom aanklop is al wat tel. Hier word nie verval in kleinlike politiekery, egos en vooroordele nie.Daar’s ook nie tyd of plek vir moegwees en moedeloosheid nie – hulle rol moue op en doen wat gedoen moet word. Die spreekwoordelike vuilwerk, is deel van hul daaglikse roetine. Die mense van MES het hart , en humor en visie. En geloof, nie net in ‘n hoër mag wat op ‘n daaglikse basis Sy genade openbaar nie, maar ook ‘n onwrikbare geloof in die potensiaal en goedheid wat in elke siel skuil –maak nie saak hoe desperaat hul verlede was nie. Baie van diè wat as kliënte by MES begin het, is deesdae deel van hul personeel – hetsy as permanente staf of vrywilligers. Daar’s Charles Hahn en Oom Tom du Preez , wie se lewensverhale onteenseglik met MES s’n vervleg is.

 

Charles begin sy storie toe hy so om en by 14 jaar oud was. Tot op daardie ouderdom het hy in ‘n gewone Christenhuis grootgeword, gereeld kerk en sondagskool toe gegaan. Op 14-jarige ouderdom het hy by sy broer in ‘n huis ingetrek. Daar het hy met dagga en drank begin eksperimenteer. Hy het opgeëindig in ‘n nywerheidskool wat hom genoodsaak het om op te hou drink en dwelms te gebruik.

 

Na skool is Charles weermag toe en het daar nuwe patrone ontstaan van drank en dwelmmisbruik.Mettertyd het dit het so erg geraak dat hy Hillbrow toe gekom het om dwelms te smous ,om sy eie gewoontes te kon onderhou. Na sy weermagdienstydperk het hy as ‘n vakman begin werk by ‘n ankerwikkelaar. Sy familie het in sy lewe ingegryp en hy kon weer aandag skenk aan sy persoonlike lewe. In diè tydperk het Charles weer betrokke geraak by kerkaktiwiteite. Hy was tot jeugleier in sy gemeente.

 

In 1987 het Charles sy vrou ontmoet en hulle is getroud. Maar drank het weer sy kloue in Charles geslaan. Hy onthou dat hy sy dogter se eerste verjaarsdag met ‘n dronkparty gevier het. Een Kersfees het Charles ‘n “black out” ervaar van al die drank – hy kon glad nie onthou wat hy gedoen het of hoe hy by die huis gekom het nie. En toe het hy besef hy het ‘n probleem. Charles het vir die Here gevra om hom te help .En dit was die keerpunt .Van toe af het hy nog nie weer ‘n druppel drank oor sy lippe toegelaat nie –“ al word die lus soms groot “sê hy.

 

In 1996 het Charles sy werk by Eskom gelos en saam met Belinda Ginsberg begin uitreikwerk doen in Bertrams.Hulle het met ‘n klein sopkombuis begin en ook vir die bejaardes in Bertrams gaan kuier. In 1997 het MES Charles en Belinda se aktiwiteite ingekorporeer in hulle struktuur en dit was die begin van die Gemeenskapsorgprogram van MES waarvan Charles, deesdae die programbestuurder is.

 

En so met die kuier by Casa Mia – een van die ouetehuise in die Middestad van Johannesburg - het Charles en Belinda vir Oom Tom du Preez ontmoet. Oom Tom was ‘n gewoontemisdadiger en het op ‘n stadium 3 vonnisse uitgedien. Hy was ‘n bendeleier in die tronk en ‘n harde man. Toe hy vrygelaat is het hy in die boubedryf gewerk maar alkohol het ‘n baie groot houvas op sy lewe gehad.

 

Op een van die besoeke het Charles hom uitgenooi om ‘n diens van MES by te woon . Oom Tom wou niks weet nie totdat hy gehoor het daar is koek en tee betrokke.Dit het hom laat besluit om te gaan. Mettertyd het daar ‘n goeie verhouding ontstaan tussen Oom Tom en Charles. By een diens is daar geleentheid gegee om die Here as persoonlike Verlosser aan te neem. Oom Tom het vorentoe gegaan en ‘n verbintenis met die Here gemaak.

 

Oom Tom se lewe het heeltemal verander. Hy het besluit om voltyds sy lewe vir die Here beskikbaar te stel. Hy is nou op ‘n vrywillige basis by MES en MES se aktiwiteite betrokke en is geniet dit baie. En so is daar baie stories – van mense uit alle kultuurgroepe, alle godsdienstige oortuigings, alle lae van die samelewing. MES is daar vir almal.

 

Die hoofkwartiere in die hartjie van Hillbrow, is daagliks ‘n miernes van aktiwiteit. Ek hoor gesprekke oor hul oornag sentrums en tussentuistes wat tot kapasiteit gevul is, en die planne wat gemaak moet word om vanaand nog die oorskot haweloses te help. Niemand mor of raak paniekerig nie- krissise word koelkop, beredeneerd opgelos.



In die groot kombuis word daar gelag geskerts en gesels terwyl ‘n stroom tieners , eks straatkinders, help met die voorbereiding van vanaand se maaltye. Mens kan skaars glo die jeugdiges wat met soveel warmte en sjarme met jou gesels, was eens die slagoffers van die ergste gesinsgeweld denkbaar. Ek loer deur die vensters van die hoofkwartiere se kleuterskool en nasorg sentrum . Die atmosfeer is rustig, gedissiplineerd, maar vriendelik en ontspanne.



Ek sien ‘n uitstalling van die werk van die Tswelopele werksverskaffing program- die mooiste, mooiste meubels, handsakke, leèrs, aktetasse, beursies en wynsakke wat uit Billboard materiaal gemaak word, en sodoende nie net unieke gebruiksgoedere skep nie, maar ook die omgewing en rommel herwinnings inisiatief ‘n hupstoot gee.

 

Onder in die parkeerruimte, ry voertuie in en uit na hul verskeie sentrums en mobiele mediese eenhede maak gereed om hul rondtes te gaan doen – niemand raas of baklei nie. Dis byna soos ‘n fantasie van die perfekte harmonieuse samelewing. “Moenie glo nie “ skerts die bestuurspersoneel oor my opmerking. “Ons is ook maar mens, met die gewone stampe en stote, maar ons weet wat die bindende faktor en ons einddoel is, en dit verdra alles.“

 

MES het dienslewering strategie deur jare se ervaring verfyn. Elke hulpbehoewende wat kom aanklop, word as ‘n unieke geval hanteer. ‘n Deeglike behoefte bepaling word gedoen, en dan spring hul aan die werk. Praktiese behoeftes soos behuising, kos, mediese sorg ,gesinsorg is eerste op die agenda, en dan word die persoon gehelp met opleiding, werkverskaffing en ander lewensvaardigdhede om as ‘n onafhanklike, suksesvolle , vervulde, volwaardige mens hul plek in die gemeenskap te kan volstaan.



Hul kliënte verstaan, hier kan hul op ‘n skoon bladsy begin , met ‘n paneel deskundiges wat bankvas agter hulle staan om te help, maar dis nie ‘n vakansiekamp nie. Daar is reëls, ‘n ooreenkoms dat jy bereid is om jouself te wil ophef, en as jy ‘n kansvatter is, gaan jy nie verby die personeel se fyn waarnemingsvermoë glip nie.

 

“Elke dag bring nuwe uitdagings “lag die personeel. “Fondse bly ‘n gebedsaak, alhoewel ons ondersteun word deur vele privaat donateurs, korporatiewe en ander organisasies. Die regering maak ook ‘n bydrae.En ons is oneindig dankbaar hiervoor, maar feit bly staan, die nood is groot. “Die behoefte aan opgeleide , ervare personeel wat op spesifieke gebiede kan diens lewer, groei ook gedurig.”

 

Hul vertel dat daar van owerheidskant ‘n versoek is om die bloudruk van hul bewese strategie in Johannesburg , uit te brei na ander groot stede met maatskaplike probleme. “Ons sal fyn moet beplan om dit suksesvol te kan uitvoer . Elke stad se profiel is anders “sê Leona.

 

Die holistiese benadering van MES begin en eindig nie net by die individu nie. Danksy befonsing van die EU ,is Madulamoho projek, in 2005 van stapel gestuur. Vervalle hotelle in die middestad ,wat voorheen die skuilplek van elke denkbare kriminele aktiwiteit was, word aangekoop en getransformeer tot bekostigbare behuising. Die berugte Europa hotel is ‘n voorbeeld hiervan. Deesdae is daar 80 wooneenhede, asook die Entuthukweni opleidings sentrum.



“Dis asof die Here sy grense hier span “vertel die mense van MES , en wys my op ‘n kaart van die middestad hoe al hoe meer vervalle hotelle langs en oorkant mekaar , op ‘n wonderbaarlike wyse in die Madulamoho projek se hande beland. Sien jy ? Sien jy ?” vra hulle –“Met die hulp van Bo kan en gaan ons ‘n nuwe gemeenskap hier skep.“

 

MES se uitsonderlike werksaamhede het hul al vele gesogte toekennings besorg – van oorkondes vir hul finansiële vernuf, tot pryse vir hul maatskaplike vermoëns.

 

Ek is moeg vir slegte nuus. Moeg vir hopeloosheid .En net toe die oormag negatiwiteit in ons land die oorhand by my wou kry , word MES en sy mense op my pad gestuur. Nou weet ek,en my vermaaklikheidskollegas , nes die strome en strome individue wat hier kom aanklop het, daar is ‘n plek van onwrikbare hoop, van volgehoue geloof en liefde . En daai plek se naam is MES.